Hierdie gemeente is in 1862 gestig. Ds. A Louw, vd Fauresmith gemeente, was die konsulent. Met sy sterk persoonlikheid het hy daartoe bygedra dat die nuwe gemeente deeglik gevestig is. Die 1e leraar vd gemeente was Ds. Colin Fraser wat sy hele ampstermyn, 1863-1907, hier deurgebring het. In die tyd het hy 18 beroepe ontvang maar almal bedank. Hy het sy stempel onuitwisbaar op die Vrystaat NG kerk afgedruk waar hy 5 keer as moderator en 4 maal as assessor, verkies is.
Interessant om die siening vd NG kerk van daardie jare oor die Rooms Katolieke kerk te lees. In sy uittree-rede as moderator waarsku hy teen die "Hooge Kerk van Engeland" en die oprig van Roomse skole oral in die land. Hy sê dat die geskiedenis van Protestantisme dit nie kan goedkeur nie want baie Suid-Afrikaners "zijn afstammelingen van de vrome Hugenoten die hunne godsdiensvrijheid met hun goed en bloed gekocht hebben".
Hy het ook sterk standpunte ingeneem t.o.v. drank, dobbelary en Sabatsontheiliging. Soveel so dat wetgewing gewysig is rakende treindienste op Sondae.
Die gemeente van Philippolis het in die Vrystaat uitgestaan vir sy sending ywer, ook te danke aan ds. Fraser.
Ds Fraser het met aansienlike skuld, waarskynlik studieskuld, in die gemeente begin. Die delging daarvan kon hy nie bybring nie en die kerkraad het by meer as een geleentheid hom te hulp gekom asook sy selaris aangepas. Die het in 1875 £500/jr beloop.
(Interessant, wat tot sy probleem bygrdra het was die wisselkoers!! Nooit geweet dat die waarde vd sg. "bluebacks", 2 sjielings en 6 pennies of halfkroon, wanneer dit vir koloniale geld gewissel is, met die helfte gedaal het.)
Dit wil voorkom asof Ds. Fraser of nie goed met geld kon werk nie of bo sy vermoë geleef het (my eie afleiding) want die kerkraad moes hom gereeld finasieël ondersteun. In 1881 is sy selaris met £300 na £800/jr. verhoog.
Sy dogter, Tibbie, is in 1887 met Adv. MT Steyn (latere president vd OVS), getroud.
Die Anglo-Boere oorlog was 'n beproewing!! Wanneer mens oor die omstandighede in die tyd lees kan jy verstaan waarom daar so'n sterk "anti-engelse" gesindheid ontstaan het.
Die Britse soldate het die kerk as fort gebruik; die omheining is platgetrap, orrel is onherstelbaar beskadig en dele vd preekstoel as brandhout gebruik. Woonhuise van burgers en ook die pastorie, is afgebrand. Meubels en al.
Ds. Fraser en sy jonger dogter is in 'n koletrok na Bloemfontein vervoer; die laaste paar myl moes sy dogter na die vrouekamp buite Bloemfontein stap. 'n Paar maande later is Ds Fraser en sy gesin na die kamp op Norvalspont verplaas en toe na Oos-Londen waar hy mediese behandeling kon ontvang.
Na die oorlog was die eens welvarende gemeente, totaal verarm. Ook Emily Hobhouse het 'n rol gespeel in die heropbou vd dorp en sy gemeenskap.