Kerkskeuring
Op die Nederduitse Gereformeerde Kerk se Kaapse sinode van 1862 het verskille in die kerk na vore begin tree tussen ’n meer konserwatiewe (of regsinnige) groep, aan die een kant, en ’n liberale (of vrysinnige) groep aan die ander kant. Die strydpunt het veral gehandel oor ’n meer ortodokse siening van die Bybel as onfeilbare woord van God (die regsinniges) teenoor die bybring van die rede en moderne uitlegmetodes in Bybel-interpretasie (die vrysinniges).
Hier plaaslik het die verdeeldheid in die kerk in 1863 tot skeuring van die NG Gemeente Swartland gelei. Ruim 300 lidmate het weggebreek en hulle by ds. J. Kotzé se sogenaamde liberale kerk geskaar. Kotzé is reeds die jaar vantevore deur die sinode geskors toe hy in die volle vergadering verklaar het hy verwerp die leer van die gedurige geneigdheid van die mens om te sondig.
Kotzé het nie sy skorsing gelate aanvaar nie. Eers het die Kaapse Hooggeregshof en toe die Geheime Raad in Engeland sy appèl teen sy skorsing gehandhaaf en in 1863 moes die sinode hom weer in die bediening herstel. Die sinode het toe ’n wet herroep ingevolge waarvan leraars nie in ander gemeentes mag preek nie. Op Malmesbury het Kotzé, wat op Darling gewoon het, ’n groot gevolg gehad. Die krag agter die Liberale kerk hier plaaslik was mnr. Willem Wethmar.
Die "liberales" is nie in die NG kerkgebou toegelaat nie. Hulle bou toe in 1870 hul eie kerkgebou in Loedolffstraat en die staan vandag nog daar. Die kerk het sitplek vir 500 lidmate gehad en die lidmate het ook ’n woonhuis/pastorie langsaan die kerk gebou.
Groot bitterheid en verdeeldheid het tot 1894 in die gemeenskap geheers en ’n felle stryd is gevoer. Deur die bemiddeling van die minsame ds. C. Rabie (plaaslike predikant van 1881 tot 1911) is die geskille uiteindelik bygelê en Kotzé het sy emiraat aanvaar en afgetree.
Die liberale het hulle kerkgebou en ander kerklike eiendom verkoop, die geld in hulle sak gesteek en so het daar weer vrede in die gemeente gekom. Die kerkgebou waarin ds. Kotzé die Woord 24 jaar lank aan sy "vrysinnige" volgelinge bedien het, het na die verkoop vd gebou ’n minder gelukkige geskiedenis gehad. Dit het al as drilsaal, skaatsbaan, pakhuis en danssaal gedien.
Erkenning aan "Gemeentegeskiedenisargief"